die omstaanders by die kruis ….

Jare gelede was Rustenburg een van die plekke wat ek as Polisiekapelaan besoek het. Eendag het ek in ’n klein kunsgalery afgekom op ’n skildery van Jesus wat van die kruis afgehaal word. Dit was ’n somber en donker uitbeelding, maar op ’n vreemde manier kon ek nie ophou om daarna te kyk nie. Ek kon dit nie bekostig nie en met elke besoek daar, het ek maar net gaan kyk. Later het die mense vir my ’n stoel reggesit en koffie gegee as ek daar aankom.

Die omstanders by die toneel was veral opvallend. Daar was ’n desperate hartseer en verslaentheid op hulle gesigte. Een persoon het nie eers na Jesus gekyk nie, maar sy kop in sy hande vasgehou terwyl hy wegkyk. Ek het dikwels gewonder oor die vreemde aantrekkingskrag van die skildery – dit was verseker nie ’n prent wat jy in ’n sonnige vertrek sou hang nie. En toe tref dit my – die rede waarom ek as’t ware nie genoeg van die prent kon kry nie was omdat ek geweet het dis nie die einde van die verhaal nie! Paassondag moes nog kom.

Natuurlik noem ons dit goeie Vrydag, want Paassondag kom. Ons moet dalk nie té vinnig Paassondag toe gaan nie, maar dit waag om genoeg tyd voor die prent van goeie Vrydag deur te bring.

Ek het later ontdek dat hierdie toneel waar Jesus van die kruis gehaal word ’n baie bekende tema vir kunstenaars is. Een van die uitstekende voorbeelde daarvan is die skildery “de kruisafname” van Rogier van der Weyden. Wat my van hierdie skildery opval is die detail waarmee hy die omstanders by die toneel uitbeeld. Dié Youtube clip wys hierdie detail. Mag dit jou help om vandag ook ’n  paar oomblikke by die toneel stil te staan. http://youtu.be/7PZsNBM7HvE

Posted in Uncategorized | 4 Kommentaar

Herrie is huistoe

Herrie is huis toe. Môre is dit 9 jaar dat ons seun Herman oorlede is in sy slaap op ’n uitreik saam met Universiteitsoord.

Hoe voel ek oor dae soos môre? Dit voel soos die dae toe ek rugby gespeel het en een ou storm op die doellyn af met die bal en jy’s die enigste een wat hom moet tackle – jy weet dit gaan nie lekker wees nie, maar jy moet dit doen.

Ek verwonder my dat dit na 9 jaar nog so intense ervaring is. Dis of die detail van die dag saam met die emosies êrens gestoor word. Dis vreemde emosies wat mens beleef. Soms is jy bang om te veel daar te gaan – bang dat jy weer daardie onbedaarde hartseer sal voel. Soms is ek bang dat ek die detail sal vergeet van wie hy was, of dat ander hom sal vergeet. Watter emosies jy ook al voel – dit laat jou maar so bietjie weerloos. Ek was veral onkant gevang deur die besef dat hartseer ten diepste eintlik ook ’n baie eensame pad is. – Victoria Alexander sê  ”There are three needs of the griever: “To find the words for the loss, to say the words aloud and to know that they have been heard.”

Ek het ’n nuwe identiteit. Wolterstorff (’n teoloog wat ook sy seun begrawe het) sê: “As mens jou kind begrawe, kry jy ’n nuwe identiteit. As mense jou regtig wil leer ken, moet hulle weet dat deel van wie jy nou is, bepaal word deur die feit dat jou kind dood is.”  Met ons skuif na Italië leer ons nou baie nuwe mense ken. Dis vir my verrassend hoe vinnig ek hulle van Herman vertel – juis omdat ek wil hê dat hulle my moet ken.

Na 9 jaar verlang ek nog verskriklik na my seun – ek mis hom, en ek wonder wie hy kon geword het. As ek sy maats se mylpale soos huwelike, kinders en beroepe sien …. dan wonder ek so baie. Ek wonder ook so baie oor die klomp wat saam hom was in daardie laaste paar dae. Ek wonder veral wat dit aaan hulle gedoen het.

Harold Kushner, wie se kind ook oorlede is, verwoord in sy boek “When bad things happen to good people”, so baie van my eie worsteling. Hy was ‘n Rabbi en sê dat dié ervaring hom verseker in sy bediening meer deernis gegee het, meer empaties en sagter gemaak het. Hy sluit dan af deur te sê: “But I will give it all up to have my child back.”

Posted in Uncategorized | 13 Kommentaar

Ninne se oorbelle

As jy by ons woonstel instap is die eerste ding wat jy sien hierdie kristal kandelaar. Daar’s ook een in elkeen van die slaapkamers. Dis baie Italiaans! (Eintlik behoort jy ook pasta te ruik terwyl operamusiek in die agtergrond speel.)

Die eerste keer toe Lanette die kandelare gesien het, het sy gesê dit lyk soos Ninne se oorbelle. Dis nogal ‘n storie om te verduidelik wie Ninne was. Sy was een of ander tannie van Lanette, maar jy’t nie vir haar “tannie Ninne” of “ant Ninne” gesê nie. Sy was Ninne. Sy was al oud toe ek haar leer ken het – baie oud. Ek kan nou nog nie ouderdom skat nie – sy’t net in die kategorie geval van : baie-oud. Sy was klein, fyn en kort … en oud. Sy’t ook baie kreukels gehad, maar dié het sy toegepoeier. Sy was goed versorg, maar sy het aangetrek soos iemand wat helfte so oud was. Om die prentjie te kry – dink ook aan tiervel- en groot blommotiewe en pelse, hoëhakskoene …. en oorbelle! Jy kan die prentjie nie nie mis nie – net soos jy ’n oorweldigende eu de cologne reuk nie kan ontsnap nie.

Ons bly nou op die platteland in ‘n klein dorpie en ek kan eintlik nie beskryf hoe mooi die huise en geboue is nie. Die mure wat jare laas geverf is saam met die netjies gepakte houtstompe vir die kaggels en die karaktervolle deure – kan jy dit oorvertel?

En tog kry jy elke nou en dan die gevoel dat jy onder Ninne se oorbelle deurstap. (soos toe ek met ons 17 kratte uit SA die huis ingeworstel het en 13 keer my kop daarteen gestamp het.) Daar’s ‘n Engelse woord wat dit beskryf – “extravagant”. Die Italianers is extravagant in wie hulle is – in hulle taal, kos en kuns …… in hulle lewe. Maar soms is daar ook oomblikke wat dit voel soos Ninne se oorbelle. In die woonstelblok voor ons is daar ook ‘n replika van Ninne. Ons het haar nou al ‘n paar oggende gesien as ons vir ons oplaai wag. Hoëhak skoentjies en nagemaakte pelsjassie. Sy het ook ‘’n baie slim poedelhondjie – hy verstaan as sy met hom Italiaans praat! Toe ons vir haar “buon giorno” sê, trek sy haar ogies op skrefies en die rooi bolip trek boontoe om ’n netjiese dubbelpad tussen die voortande te vertoon. Baie van die mense hou van die kristal kandelare en hulle meubels is diepgroen en wynrooi (en dit gee jou hooikoors) Maar dan is daar ook ‘n nuwe geslag mense wat hulle meubels by Ikea koop – wit, funksioneel en gemaak om in die klein woonplekkies te pas.

Ninne se oorbelle het vir my die simbool geword van ons kulturele aanpassing in Italië. Soms giggel ek en ander kere verwonder ek my. Jy kan dit veral nie vermy nie, want nes jy dink jy verstaan als – dan skuur jy jou kop teen Ninne se oorbelle!

Posted in Uncategorized | 3 Kommentaar

Italihansie se hart

Van ons woonstel se balkon af sien jy die berge. Mens kan nie eintlik met woorde beskryf hoe mooi dit is nie – dis oorweldigend mooi! Dis die prentjies wat ons op facebook sit en wat ons huistoe stuur. Wat ons nog nie gewys het nie is dat daar reg langs ons woonstelblok ‘n bouwerf is met allerhande bourommel.

Ek gaan vandag waag om die ander prentjie van my in Italië, ook te wys.

Ek moet dadelik sê dat ek verskriklik ongemaklik voel om dit te doen. Ek is glad nie gewoond om baie persoonlike dinge van myself te deel nie en ek wil ook nie dat hierdie blog ‘n derm uitryg- van Hansie se diepste emosionele toestand word nie. Ek voel maar so half weerloos as ek dit deel – so bietjie verleë. Dit voel so half soos wanneer die gemeentelede jou in Clearwater Mall gevang het met ‘n reuse draairoomys van Milky Lane of jy uitgevang word dat jy uit die bottel in die yskas gedrink het.( … en dominees kry mos in elk geval nie swaar nie!) Tog gaan ek waag om tog so ‘n bietjie meer persoonlik te deel. Miskien help dit my om dit te verwoord en miskien help dit iemand wat probeer dink hoe dit voel om so skuif te maak.

Ek dink hoe ouer mens word, hoe gemakliker word jou gemaksone. Maak nie saak watse mooi filosofiese dingetjies jy sê , of watter mooi inspirerende aanhaling daar op Facebook is nie – dis bitter ongemaklik om uit jou gemaksone te kom. (Dis waarskynlik hoekom dit ‘gemaksone’ genoem word!) Ek het ‘n tyd beleef wat ek regtig swaar gekry het. ( en ja, ek weet ek gaan dit nog berou dat ek dit in die verlede tyd plaas!) Ek is regtig onkant gevang deur die intensiteit van my verlang. Ek het vergeet hoe dit voel om so te verlang. Ek dink ek het laas na Herman se dood so verlang. Ek verlang veral na die kinders ….. en na almal wat jou ken, wat vir jou lief is en jou aanvaar en bly is om jou te sien. En ek is onkant gevang deur my verlang na die gemeente. As mens vir amper 30 jaar gewoond is om te preek en groepe te hou en saam met mense te lag en te huil – dan voel dit soos rou as jy terugdink aan daardie tyd. (As ek  saans nie kon slaap nie, het ek  lê en plannetjies maak om terug te gaan) Word ‘n mens se identiteit dan bepaal deur al die verhoudings waarin jy gestaan het en kan jy net dit doen waaraan jy gewoond was?!  Dis vir my ook moeilik om elke einde van die maand te wag en te sien of mense tog inbetaal het – ek het nog so ’n lang pad om te leer van afhanklikheid.

Maar dis regtig nie net ’n geween en ’n gekners van tande nie. As ons vir almal gesê het dat dit goed gaan, was ons ook eerlik. Dis onbeskryflik mooi hier. Ons bly baie lekker. Ons woonstel is knus en sonnig en dis lekker om huis toe te kom. (selfs ten spyte van die Italianer bokant ons se eskapades!)  Ons het ‘n baie eenvoudige leefstyl waar ons wasgoed en skottelgoed was en huis skoonmaak. Ons eet eenvoudige etes en stap dorp toe om ons kos te koop. Ons stap baie en ry bus omdat ons nog nie ’n kar het nie. Ek en Lanette het só na aan mekaar gekom. Ons lag baie, praat baie, droom baie en verlang saam. Dis of ons mekaar op ’n nuwe manier leer ken en saam kan groei. As ons met die kinders praat hoor ons ook in hulle stories dat die Here met hulle besig is. (miskien omdat ons dit wil hoor) Ons is SOOO dankbaar vir hulle en baie trots op hulle. Die span waarvan ons deel is, is regtig ‘n inspirasie. Hier is ook ‘n klomp jongmense wat as vrywilligers help – dis lekker om deel van hulle storie te word.

Dit voel tog vir my of ons ’n verskil kan (en moet!) maak. As ek van die moedelose en moeë sendelinge hier in Europa kan ophelp en troos – dan kan ons mos ’n verskil maak. As Lanette deur haar kuns nuwe verhoudings kan bou en naby mense kan kom – dan kan ons mos ’n verskil maak. Die Here is verseker besig om my nuut te leer dink oor gebed en afhanklikheid.

Miskien is my storie hier ook maar soos die bouwerf s’n hier langs ons blyplek. Hulle kom laai allerhande ou bourommel af, maar hier is ook hope stene en boumateriaal vir allerhande nuwe projekte.

Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar

Petronella staan in die ry ….

Laas Vrydag is ek Torino toe om my verblyfpermit te gaan kry. ( “one small step for man – one giant leap for Hansie”)

Vroegoggend staan ek toe saam met al die ander vreemdelinge – wat keer op keer maar weer probeer vir ‘n permit – in die reën en koue voor die deur van die kantore. Nou moet ek bely – daar was so paar oomblikke wat ek so bietjie pateties wou voel. (Ruan van die Woensdagaand Bybelstudie het op ‘n keer vir iemand, wat so bietjie pateties wou wees, gesê: moet nou nie ou Petronella Pisdruppel wees nie!) Vrydagoggend het ek toe so bietjie Petronella-agtig gevoel. En toe – net daar in die koue-  het ek hierdie helder oomblik van selfinsig: wie dink ek is ek?! Hoekom behoort ek voorkeurbehandeling te kry, of dit selfs gespaar word? Hoe min weet ek van die mense wat uit desperaatheid hier kom staan? Hoeveel weet ek (en hoe voel ek?) oor die rye en rye mense wat voor binnelandse sake moet staan omdat hulle gevlug het? Hoe moet dit wees om só desperaat te wees dat dit selfs beter is om as ‘n vreemdeling in ‘n land te kom bly waar mense eintlik jou maar net op ‘n vyandige manier as ‘n bedreiging te beskou? Ek weet nie hoe dit is om so behandel te word nie. Dis nie lekker om so te voel nie.

Jaco Strydom sê laasweek in ‘n skitterende artikel in die Beeld die volgende: “Ons sal nader moet kom om beter te kan sien.
Dit is nie dat kerkmense oor die algemeen niks voel nie, inteendeel, ons is dikwels net te ver om te verstaan.”

Miskien is die nood soms net so oorweldigend dat dit veiliger is om verder te bly staan.

So ruk terug het ek ook die storie gehoor van die tjellospeler van Sarajevo. (daar’s blykbaar al boeke daaroor geskryf) Vedran Smajlovic was ‘n tjellis wat in 1992/93 oorweldig is deur die afgryslike aanvalle op gewone burgers. Op ‘n keer is meer as 20 mense, wat in ‘n ry gestaan het om brood te koop, deur ‘n mortier gedood. Hy het geworstel met die verskriklike lyding en verwoesting rondom hom. Hy het besluit om daagliks met sy tjello op die ruïnes te gaan sit en te speel as teken van protes en as boodskap van hoop. Hy’t ook tussen die grafte gaan sit van die mense wat gesterf het en meestal Albinoni se Adagio gespeel.

Ek het my verblyfpermit gekry. Oppad terug stasie toe het ek in ‘n protesoptog vasgeloop – téén die vreemdelinge in die land!

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

wie was die Nikalaïete?

Die mannebybelstudie in Weltevreden is van my kosbaarste herinneringe van die gemeente.

Toe die aankondiging een Sondag hier in ons gemeente  in Torre Pellice gemaak word dat daar met ‘n mannebybelstudie begin gaan word, was ek dadelik die ene ore. Toe volg die detail: dit sal Donderdag aande wees van 9 uur tot 11 uur, oor Openbaring gaan en in Italiaans wees (natuurlik!) Vir 2 weke loop ek en wonder of ek moet gaan en ek oortuig myself dat dit nie goed sal wees om in in ‘n teologiese debat te verval oor Openbaring nie. (veral nie in Italiaans nie!) André moedig my aan om dit tog te gaan prober – “ dis ‘n goeie plek om die manne te leer ken”, sê hy.

 Donderdag. Ek groet so 20 voor 9 vir Lanette, trek my warm baadjie aan,neem my Bybel op en stap af na die dorp toe. Oppad dorp toe wonder ek nogal hoe ek lyk met die Bybel onder my arm, en giggel ek so half vir myself.

By die kerkie is daar net 3 ander ouens. Hulle kan almal net Italiaans praat en ek sien so effense paniek op hulle gesigte. Vir ‘n oomblik dink ek dit gaan my verskoning wees – niemand kan my verstaan of vertaal nie. Toe stap daar nog iemand in – hy kan piccolo po (baie klein bietjie) Engels praat. Hy kan wel ook bietjie Duits praat en ek en hy het al sulke Duitse grappies met mekaar gemaak (ek met my matriek- Duits van omtrent net na die 2e wêreld oorlog) Hy’s duidelik ingenome met die feit dat hy my op hoogte sal hou van die aand se bespreking.

Maar eers …… koffie! ‘n Mochapot word op die stoof gesit en terwyl ons wag daarvoor begin ons solank die vertalery opwarm met gesprekke oor ditjies en datjies. Dan word die koffie geskink en ek besef hier’s ek nou in ‘n ander liga. Die een vertel hy drink 10 van koffietjies per dag, die ander drink ten minste 12. Nee wat sê die ander –hy drink koffie om aan die slaap te raak. Toe proe ek die koffie ! As dit deur jou mond beweeg haal dit al die enamel van jou tande af en wanneer dit in jou maag land, val dit dadelik die maagwand aan. Jou oë skiet oop en lyk vir die res van die aand soos Al Debbo s’n.

So teen half 10 kom die Bybelstudie op dreef – Openbaring 2: die brief aan die Efesiërs. Aha, dink ek – ek kan ‘n lekker geprek aan die gang sit oor die “eerste liefde vir Jesus” wat die gemeente verloor het. Ek vra so paar interessante vrae, maar ek is nie seker hoe dit deur die vertaler by die ander uitkom nie, want hulle loer so onderlangs vir my en dan begin een verwys na ander verse in Handelinge en Hebreërs. En dan duik die groot vraag op – wie was die Nikalaïete in wie die Efesiërs darem ‘n afsku gehad het?( Om de dood of ek kan onthou wie hulle was.) Nou’s daar eers ‘n uitvoerige (en vertaalde) gesprek oor die moontlikhede van wie hulle kon wees. In dié stadium besluit ek om maar so bietjie terug te tree – die vertaler meen in elk geval dat ek al hoe meer self begin regkom en selfs hy praat nou al in Italiaans met my. My strategie is om net op sulke strategiese plekke  “si…. si” te sê.

Op pad huistoe loop ek met groot oë en wonder: wie was die Nikalaïete?

Posted in Uncategorized | 5 Kommentaar

Vandag is Dawie se verjaarsdag

Dawie sou vandag verjaar het. Dawie was my vriend wat ek van Gr1 af gehad het. Dawie se pa is baie vroeg oorlede en hy het eintlik nooit ‘n pa gehad nie. Hy het ‘n wonderlike ma en sussie, en oom en tannie gehad wat almal saamgewoon het.

Dawie het spierdistrofie gehad – ‘n degeneratiewe siekte waaraan hy jare later na ‘n erge lyding oorlede is.

Ek is nou in die fase in my lewe waar ek baie nadink oor die mense wat my lewe  beïnvloed het. Miskien was dit omdat  ons al ons grootword dinge met mekaar gedeel het dat ek toé nie besef het watter impak Dawie se  lewe op my sou hê nie.

Hy was ‘n positiewe, dankbare en lewenslustige mens. Ons het die wonderlikste dinge saam beleef – so baie saam op vakansie en uiteindelik saam Amerika toe. Ek onthou hoe ons onder Tshokwane se boom in die wildtuin gesit en brunch eet het – en as ek nou terugkyk dan voel daardie spek en eiers amper soos nagmaal, omdat ons net die gawe van die lewe wat die Here vir ons gegee het , so kon vier!

 En so, sonder dat ek dit regtig geweet het, het ek lewenswaardes by Dawie geleer wat my hele lewe sou vorm. Dinge soos: broosheid is nie swakheid nie, en positiwiteit is aansteeklik en om net nooit op te gee nie. En veral dat mense saakmaak. Ek onthou – dit was al op die einde van sy lewe, dat hy eenkeer die suurstofmasker afgelig het en vir my gesê het: “ Jy maak saak ….  mense maak saak, goeters maak nie saak nie!”

Dankie Dawie!

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar