Van ons woonstel se balkon af sien jy die berge. Mens kan nie eintlik met woorde beskryf hoe mooi dit is nie – dis oorweldigend mooi! Dis die prentjies wat ons op facebook sit en wat ons huistoe stuur. Wat ons nog nie gewys het nie is dat daar reg langs ons woonstelblok ‘n bouwerf is met allerhande bourommel.
Ek gaan vandag waag om die ander prentjie van my in Italië, ook te wys.
Ek moet dadelik sê dat ek verskriklik ongemaklik voel om dit te doen. Ek is glad nie gewoond om baie persoonlike dinge van myself te deel nie en ek wil ook nie dat hierdie blog ‘n derm uitryg- van Hansie se diepste emosionele toestand word nie. Ek voel maar so half weerloos as ek dit deel – so bietjie verleë. Dit voel so half soos wanneer die gemeentelede jou in Clearwater Mall gevang het met ‘n reuse draairoomys van Milky Lane of jy uitgevang word dat jy uit die bottel in die yskas gedrink het.( … en dominees kry mos in elk geval nie swaar nie!) Tog gaan ek waag om tog so ‘n bietjie meer persoonlik te deel. Miskien help dit my om dit te verwoord en miskien help dit iemand wat probeer dink hoe dit voel om so skuif te maak.
Ek dink hoe ouer mens word, hoe gemakliker word jou gemaksone. Maak nie saak watse mooi filosofiese dingetjies jy sê , of watter mooi inspirerende aanhaling daar op Facebook is nie – dis bitter ongemaklik om uit jou gemaksone te kom. (Dis waarskynlik hoekom dit ‘gemaksone’ genoem word!) Ek het ‘n tyd beleef wat ek regtig swaar gekry het. ( en ja, ek weet ek gaan dit nog berou dat ek dit in die verlede tyd plaas!) Ek is regtig onkant gevang deur die intensiteit van my verlang. Ek het vergeet hoe dit voel om so te verlang. Ek dink ek het laas na Herman se dood so verlang. Ek verlang veral na die kinders ….. en na almal wat jou ken, wat vir jou lief is en jou aanvaar en bly is om jou te sien. En ek is onkant gevang deur my verlang na die gemeente. As mens vir amper 30 jaar gewoond is om te preek en groepe te hou en saam met mense te lag en te huil – dan voel dit soos rou as jy terugdink aan daardie tyd. (As ek saans nie kon slaap nie, het ek lê en plannetjies maak om terug te gaan) Word ‘n mens se identiteit dan bepaal deur al die verhoudings waarin jy gestaan het en kan jy net dit doen waaraan jy gewoond was?! Dis vir my ook moeilik om elke einde van die maand te wag en te sien of mense tog inbetaal het – ek het nog so ’n lang pad om te leer van afhanklikheid.
Maar dis regtig nie net ’n geween en ’n gekners van tande nie. As ons vir almal gesê het dat dit goed gaan, was ons ook eerlik. Dis onbeskryflik mooi hier. Ons bly baie lekker. Ons woonstel is knus en sonnig en dis lekker om huis toe te kom. (selfs ten spyte van die Italianer bokant ons se eskapades!) Ons het ‘n baie eenvoudige leefstyl waar ons wasgoed en skottelgoed was en huis skoonmaak. Ons eet eenvoudige etes en stap dorp toe om ons kos te koop. Ons stap baie en ry bus omdat ons nog nie ’n kar het nie. Ek en Lanette het só na aan mekaar gekom. Ons lag baie, praat baie, droom baie en verlang saam. Dis of ons mekaar op ’n nuwe manier leer ken en saam kan groei. As ons met die kinders praat hoor ons ook in hulle stories dat die Here met hulle besig is. (miskien omdat ons dit wil hoor) Ons is SOOO dankbaar vir hulle en baie trots op hulle. Die span waarvan ons deel is, is regtig ‘n inspirasie. Hier is ook ‘n klomp jongmense wat as vrywilligers help – dis lekker om deel van hulle storie te word.
Dit voel tog vir my of ons ’n verskil kan (en moet!) maak. As ek van die moedelose en moeë sendelinge hier in Europa kan ophelp en troos – dan kan ons mos ’n verskil maak. As Lanette deur haar kuns nuwe verhoudings kan bou en naby mense kan kom – dan kan ons mos ’n verskil maak. Die Here is verseker besig om my nuut te leer dink oor gebed en afhanklikheid.
Miskien is my storie hier ook maar soos die bouwerf s’n hier langs ons blyplek. Hulle kom laai allerhande ou bourommel af, maar hier is ook hope stene en boumateriaal vir allerhande nuwe projekte.